Thursday, April 9, 2009

Tamatie

Liewe Vriendin


Ek bring vir jou ‘n tamatie.

‘n Kwart eeu gelede, toe die kinders nog klein was en ek en my jonger sussie, Ria, op ‘n dag met die kinders in die parkie gaan piekniek hou het tydens ‘n skoolvakansie, gesels ons oor wat ‘n mens in die kombuis moet hê om te voel jy het ietsie om ‘n ete vir jou gesin te kan voorsit. Aartappels en Tamaties, was eerste op die lysie en daarna het items soos eiers en uie gevolg. Vandaar my keuse van ‘n geskenk aan jou vandag: Ek gee, met liefde, vandag vir jou ‘n tamatie.

Die eerste notas wat gemaak is oor die tamatie plant (geel vrug) was vroeg in die 1500’s in die Westelike gedeelte van Suid-Amerika, Sentrale Amerika en Mexiko. Volgens navorsing blyk dit dat die Tamatie deur middel van die Spaanse bevolking in 1544 na Italië geneem is. Daarna het die res van Europa kennis geneem van die lekkerny. Die eerste tamatie plantjie in Engeland is in 1590 geplant. Die Verenigde State van Amerika neem in 1710 kennis van die tamatie, meer as 200 jaar nadat dit al aan Suid-Amerikaners bekend was. Ongelooflik, nè!

Name vir die tamatie:

Italianers: Golden Apple
Franse: Apple of Love
Amerikaanse Indiane: Tomatl
Duitsers: Wolf Peach


Die eerste kookboek met tamatie resepte dateer terug tot 1692. Die resepte is moontlik deur die skrywer by die Spaanse bevolking gekry.

Gebruike vir tamaties:

Natuurlike anti-oksidant;
Behandeling van die vel (puisies, koorsblare, inflammasie, ens);
Slaaie, stowe-geregte, sap, konfyt, sous, gedroog, gerooster;
Nie-dodelike wapen in massa protes-aksies; en
Gedurende die jaarlikse La Tomatina-fees in Spanje is die groot tamatie-geveg die middelpunt van die fees.

Varïteite:

1835 vier varïteite, naamlik: Cherry, Pear, Large Yellow and Large Squash.
1863 was daar reeds 23 varïteite.
1880 was daar 171 varïteite.

Saans na werk is ons hele gesin doenig in die kombuis om aandete te maak. Die eerste keer wat ‘n vriend saam met ons aandete gemaak het, het hy in die kombuis rond gesoek. In die yskas, in die groente-rak, in die vrugte-bak, en later die groot vraag: “Waar is die liefde van hierdie huis?” Wit geskrik, het ek nie geweet hoekom hy die vraag vra nie. Hy het die vraag ‘n paar keer herhaal. Nodeloos om te sê dat ek, Hannes en Beatrix beslis nie geweet het hoekom hy so ‘n vraag vra nie, want ons is maar ‘n gewone gesin met min stryery en ons druk mekaar gereeld – om nou vir ons te vra oor ons liefde vir mekaar - dit het nie sin gemaak nie.

Seker na die vyfde keer wat hy vra: “Waar is die liefde van hierdie huis?” het hy verduidelik dat die Franse die tamatie “The Apple of Love” noem.

Van daardie aand af het ‘n tamatie vir my ‘n heel ander betekenis as net ‘n bestanddeel vir ‘n lekker mengelslaai, ‘n bietjie donkerrooi konfyt met pitte in – gebottel as geskenkie vir ‘n spesiale vriendin, ‘n heerlike smaakmiddel in kerrie, ‘n oorlewingskossie vir ‘n groeiende gesin, gekry.

Ek kyk terug oor my lewe en ek onthou hoe ons vir elke kind van kleintyd af ‘n takie in die huishouding gegee het, sodat hulle volwaardig lede van die huishouding kon wees. Ek onthou hoe ons kaalvoet in die omgespitte nat-grond-groentetuin rondsoek vir ‘n ryp genoeg tamatie vir slaai of om dit as lekkerny te eet.
Ek onthou hoe ons ook ander groente en perskes gepluk het, maar ons skryf vandag oor die tamatie, daarom gaan ek nie oor die ander groente en vrugte praat nie.

Die ronde, gladde lyfie van ‘n tamatie, lê so lekker in die holte van jou hand. Geen dorings wat kan steek nie. Jy weet as jy hom te hard druk, gaan hy kneus of stukkend wees. So is die verhoudings tussen mense wat saam in een huis bly. Ronde, gladde lyfies, sonder dorings waarmee ons velkontak kan hê, maar hanteer versigtig om nie permanente letsels te laat en te breek nie. Hou die liefde van jou huisgenote met net soveel respek in die holte van jou hande.

Wees mekaar se anti-oksidante. Wanneer daar reeds gifstowwe in ons lewens is, kan ons mekaar help om daarvan ontslae te raak.

Die aptytwekkende geur wat ‘n tamatie deur die huis versprei wanneer dit gebraai word, laat dink my aan die geur van my huisgenote se liefdevolle nabyheid. ‘n Mens kan nie genoeg daarvan indrink nie.

Ek gee vandag vir jou ‘n tamatie as simbool van die liefde

Matteus 22:36-40
“Meneer,” vra die wetgeleerde, “wat is die grootste gebod in die wet?”
Jesus antwoord hom:
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
Dit is die grootste en die eerste gebod.
En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is:
‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
In hierdie twee gebooie is die hele wet van die profete saamgevat.”

Van altyd af dink die mens hy is Slim-Jan. Soos gewoonlik, stel die mens die vraag aan God: “Wat is die grootste gebod?” en hoop dan dat dit ‘n maklike kort antwoord gaan wees, maar weereens kom Jesus met ‘n antwoord wat nie altyd so maklik-maklik uitvoerbaar is nie. Nee, Hy het geweet as Hy net die eerste gebod as die enigste gebod gaan gee, sal daar net op die gebod gekonsentreer word en dan sal daar hoeveel mense (christene) wees wat agter die een gebod wegkruip en gerieflikheidshalwe vergeet van die tweede gebod, wat in Sy oë gelykstaande aan die eerste gebod is.

Ek gee vandag vir jou (met baie liefde) ‘n tamatie .......

Mag u die seën van die Here elke dag in u verhoudings met ander ervaar.
Mag jy tot oorlopenstoe-vol liefde (van God en van mense) ontvang.
Tot ons weer gesels.

Groetnis

xx


No comments: