Elkeen van ons dink ons kan 'n ander persoon op gesigswaarde oordeel, maar helaas - met die mensekind werk dit nie so nie.
Enigeen wat hom elke dag in sy wit jas sien, waar hy tussen siekes beweeg en bejaardes vertroos, dink hierdie man het al die geleenthede van die wêreld gehad om te kom waar hy is. Om 'n mediese dokter te word gebeur nie oornag nie. 'n Mens het ondersteuning nodig. Emosionele en finansiële ondersteuning. Min weet hulle, dat hulle hom nie op sy motor, die huis waarin hy woon en die praktyk kan beoordeel, asof alles op 'n skinkbord vir hom aangedra was nie.
Kom ek vertel jou van hom.
Ek het hom leer ken as 'n seun in standerd twee. Elke dag kantoor toe geroep omdat sy tuiswerk slordig gedoen was. Ja, die skoolwerk was gedoen, maar die vuil kolle, die slordige handskrif ..... kon sy ma dan nie ook toesig hou smiddae oor die deurmekaarkop seun nie? Elke dag het die skoolhoof gewaarsku, soms lyfstraf gegee, almal in die klas het al hul oë hemelwaarts gerol wanneer sy naam weer uitgeroep was om die bekende paadjie kantoor toe te stap.
Nooit het hy teëgepraat nie. Altyd sy pak soos 'n man gevat. Nooit het iemand hom werklik geken nie, tot op die dag wat ek by hierdie briljante wiskunde-leerling van my, gaan huisbesoek doen.
Die hekkie was nie heeltemal toe nie. Dit kon nie ordentlik toemaak nie. In die tuin was daar 'n posseëlgrootte grasperkie. Geen speelgoed buite op die werf nie - dit terwyl die skoolrekords aangedui het dat hy die oudste van drie kinders was.
Iets aan die huisie het my hart vir 'n paar minute laat stilstaan. Alles was grafstil. Ek het opgestap met die twee trappies voor die voordeur. Aan die deur geklop. Na 'n hele ruk het die deur oopgegaan. Hy het voor my gestaan. Weerskante, half agter sy seuntjiebene, sy twee jonger boeties, albei nog in hule voorskoolse jare.
"Meneer kan maar inkom. Meneer sal asseblief net moet verskoon, ek is besig om kos te kook....... "
My seun, ek wou jou aan my hart druk en jou nooit weer laat gaan nie. Die seer in my, wil vandag, na vyf-en-twintig jaar, nog nie verbygaan nie. Hoe min weet ons van mekaar? Hoeveel nagte na daardie besoek kon ek nie die weelde van 'n eie bed, 'n eie kamer as regverdig aanvaar nie.
Ek kan daardie dag net nie vergeet nie.......
Jy het toe alreeds vir jou boeties en jouself pap gemaak vir middagete. Jy het kos gekook vir aandete, vir wanneer Pa en Ma terugkeer van die werk af. Eenkant in die kombuis-cum-eet-cum-sitkamer het die strykplank gestaan, waar jy besig was om tussen die aandag wat jou boeties van jou vra, en die koskokery deur, ook nog gestryk het.
Die dae wat jy nie gewas of gestryk het nie, het jy huis skoongemaak --- al was jy nog maar net 'n tingerige standerd twee seuntjie wat met 'n rugbybul in die parkie moes speel, of fiets ry, of ............... net seun wees.
Hoeveel keer het jy lyfstraf vir slordige huiswerk gekry? Hoeveel keer moes jy neerhalende aanmerkings oor jou voorkoms aanhoor? 'n Honderd keer? - nee sekerlik baie meer. Hoe onregverdig moes die optrede van die grootmense van ons wêreld nie vir jou gelyk het nie?
Jy wat saans, nadat jy die skottelgoed gewas het, jou boeties in die dubbelbed (waarin die drie van julle moes slaap) slaapgemaak het; onder die straatlig op die sypaadjie jou huiswerk gedoen het. Omdat julle huisie slegs twee vertrekke gehad het met geen binnemure en deure nie, net gordyn-afskortings, kon jy nie by dieselfde kombuistafel waar jy die heeldag gearbei het, jou huiswerk doen nie, want die lig in die huis sou jou ouers in hulle slaap steur.
Nooit kan ek jou, my "hartkind" vergeet nie - ek druk jou nog elke dag aan my hart en ek bid vir jou.
Oorvertel aan my, deur my mentor, gedurende my Proeftyd by Derdepoort Laerskool.